Wednesday Apr 23, 2025

Episode 442 - ANC staar regsaksie in die gesig oor verbreking van ooreenkoms met Solidariteit

  • Spanning verhoog

Die toename in volume op sosiale media  is te wyte aan verhoogde spanning rondom regeringsbeleide in Suid-Afrika, veral oor die ANC-geleide regering se optrede rakende die Afrikaanse gemeenskap en regstellendeaksie-regulasies. Die herhaalde kritiek van Kallie Kriel en die AfriForum beklemtoon vermeende verraad van ooreenkomste wat bedoel is om Afrikaanse skole te beskerm en aansprake van rassisme in regstellende aksie. Dit het 'n sterk gesprek op sosiale media ontketen, met verskeie belanghebbendes wat hul menings uitgespreek het, wat gelei het tot 'n aansienlike toename in besprekings en gedeelde inhoud oor die onderwerp.

  • Minagting van die hof. Tyd tot 30 April voor regsaksie

Solidariteit kondig optrede teen Ramaphosa aan oor minagting van hof

Solidariteit gaan die hof vra om president Ramaphosa, as staatshoof, skuldig te bevind aan minagting van die hof.  Dit volg nadat die regering ’n skikkingsooreenkoms tussen Solidariteit en die regering van Suid-Afrika, oor rassewetgewing, verbreek het.

Solidariteit het vandag as eerste stap vir die president geskryf dat hy die ooreenkoms moet implementeer om regstappe te vermy.

Die ooreenkoms is op 28 Junie 2023, onder toesig van die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO), gesluit en deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) in Suid-Afrika gefasiliteer. Die ooreenkoms is ook ’n bevel van die hof gemaak.

Ingevolge die hofbevel moet die ooreenkoms saam met die regulasies van die Wet op Billike Indiensneming, wat reeds in 2023 ontwikkel is, gepubliseer word. Die finale regulasies is op 15 April 2025 gepubliseer, maar net enkele bepalings van die ooreenkoms is gepubliseer.

Die regering het eensydig bepalings verwyder, soos dat rassewette tydelik moet wees, dat niemand op grond van rassewette afgedank mag word nie en dat werkgewers verplig is om die inherente vereistes van ʼn pos en die poel van beskikbare vaardighede in ag te neem.

  • Reaksie

Kallie Kriel  skryf: Die ANC-geleide regering is eerloos. Eers het hulle die ooreenkoms, wat gemik was daarop om te verhoed dat die anti-Afrikaanse Bela-wet Afrikaanse skole vernietig, gewetenloos verbreek. Nou verbreek hulle ook die ooreenkoms met Solidariteit dat r(a)stellende aksie-regulasies nie op ongebreidelde rassisme mag neerkom nie.

Tog vra president Ramaphosa ewe vroom dat “Suid-Afrikaanse oplossings vir Suid-Afrikaanse probleme gevind moet word”, terwyl hy en sy regering, sonder om ’n oog te knip, plaaslike oplossings wat met hulle beding is, minag.

Dit is om hierdie rede dat AfriForum en ons kollegas in die Solidariteit Beweging geen ander keuse het as om internasionale steun te soek vir die beskerming van menseregte wat deur ANC-leiers in die regering geskend word nie.

Comment (0)

No comments yet. Be the first to say something!

Copyright 2023 All rights reserved.

Podcast Powered By Podbean

Version: 20241125