Tuesday Apr 18, 2023
Die groot trek 2023 het aangebreek
- Die groot trek 2023 is nie noodwendig ‘n trek na Orania, die Wes-Kaap of Australië nie maar ‘n geleentheid waar elke inwoner van Suid-Afrika moet aanpas by beurtkrag en ‘n staat wat verval en nie meer dienste kan lewer nie. Om “te trek” is nie vreemd vir die Afrikaner nie en ons voorsate het dit gedoen om te trek na nuwe geleenthede en omstandighede wat hul pas. Hoe meer die staat probeer inmeng in jou bestaan hoe dringender raak dit om selfbestuur toe te pas en jou eie ruimtes en omstandighede te skep.
- Keina Swart skryf: Kan iemand my asseblief net gou bemoedig en herinner (ek weet nie eens meer of dit herinner of herhinner of herhinder is nie) aan al my voorregte? Ek het gedink die krag kom 19:00 aan, maar toe nou besef dit kom eers 21:00 aan. Dit beteken tien ure beurtkrag vandag. Ek is moeg en honger. Die Een wat ek Lief Het, het nou my potte buite op die vuur gaan sit — soos bleddie Racheltjie de Beer-hulle van destyds. Ek kort nou nog net die miershoop om brood in te bak.
- Alet Rademeyer skryf in Maroela Media: Die werklikheid vandag is dat ons, soos Bart Nel, in “opstand” teen die swak regering en geen dienslewering gekom het.
- Die gemiddelde Suid-Afrikaner het vanjaar tot dusver net meer as 655 uur se totale onderbrekings beleef – gelykstaande aan 27,3 volle dae se onderbrekings. Terwyl die totaal wat in 2022 ervaar is hoër was (34,6 dae), het dit 'n volle jaar geneem om daardie punt te bereik.
- Eskom het byna 'n halftriljoen rand se belastingbetalersgeld ontvang berig Bloomberg .
- Oor die afgelope vyf jaar was die finansiële agteruitgang in die land se agt metrorade, wat die enjins van die ekonomie behoort te wees, selfs vinniger as in kleiner munisipaliteite. Ses uit elke 10 plaaslike munisipaliteite in Suid-Afrika is nie finansieel volhoubaar nie en is waarskynlik wanfunksioneel wat dienslewering betref.
- Vyftien jaar nadat hy herroep is, is oudpresident Thabo Mbeki steeds Suid-Afrikaners se gunsteling politieke leier. ’n Studie deur die Sosiale Navorsingstigting oor hoe gunstig na politieke leiers gekyk word, toon dat Mbeki in die gunstigste lig gesien word berig City Press.
- Vyf burgerlike organisasies plus 'n individu berei 'n aansoek by die Konstitusionele Hof voor vir 'n verklaring oor die ongrondwetlikheid van die Verkiesingswysigingswet, wat deur president Cyril Ramaphosa in wet onderteken is.
- Die Suid-Afrikaanse owerhede het steeds geen bewyse dat die Gupta-broers ooit in Dubai in aanhouding was voordat die regering ingelig is dat hul uitlewering misluk het nie berig Netwerk 24.
- Die departement van binnelandse sake het ’n private vliegtuig teen R1,4 miljoen gehuur om Thabo Bester in Tanzanië te gaan haal berig Netwerk 24. .
- Suid-Afrikaanse huishoudings is in ernstige moeilikheid volgens Capitec.
- Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO) het R9,2 miljard se aandeelhouerswaarde in drie jaar vernietig en staar nou bankrotskap in die gesig.
- Die Universiteit Stellenbosch se raad het besluit om 'n komitee van drie aan te stel om bewerings van nepotisme teen visekanselier professor Wim de Villiers te ondersoek.
- Reën kan volgende week, gedurende Mei en in die eerste deel van Junie oor die somerreënstreek voorkom, terwyl die winterreënstreek in die komende vier weke reën kan kry berig Landboucom
No comments yet. Be the first to say something!