Friday Nov 01, 2024

Episode 363 - Bela. Besef ons werklik wat is ons besig om te verloor vir ons kinders en hulle kinders.

Die Voortrekkermonument in Pretoria het saans 'n oranje gloed in solidariteit met die BELA-protes wat op 5 November  op die perseel gehou word.

Gisteraand het ek die oranje Voortrekkermonument gaan afneem. Dit was ‘n tegniese foto waar die uitdaging was om die oranje te wys in die nag en steeds die skerpheid en statuur van die monument te behou.

Ek het die monument van ‘n aantal hoeke afgeneem. Voor die monument en sentraal is die standbeeld van die vrou met twee kinders wat deur Anton van Wouw geskep is, wat 'n Voortrekkervrou en haar twee kinders uitbeeld.

Hierdie beeldhouwerk is 'n huldeblyk aan die krag en moed van Voortrekkervroue tydens die Groot Trek, en weerspieël hul lewensbelangrike rol in baanbrekerswerk en hul families te midde van die swaarkry wat hulle tydens hul reis ondervind het.

Soos wat ek nader aan die monument beweeg het, het die kamera lens al wyer geword en die standbeeld meer sentraal en prominent.

Vandag toe ek die foto’s uitsoek en tegnies versorg vir media gebruik tref die foto van die standbeeld van die Voortrekkervrou en haar twee kinders my weer. Die volgende gedagte oor Bela kom op: Besef ons werklik wat is ons besig om te verloor vir ons kinders en hulle kinders.

Die optog van 5 November is vir die Afrikaner ‘n saak van erns. Op 4 November kom meer as 50 Afrikaner-organisasies bymekaar om hul steun te gee.

Daar is baie gepraat en geskryf oor Bela en die gevare wat dit inhou.

Ernst Roets wys die volgende in ‘n onlangse video uit:  Onderwys, Bela en die "dermatologie probleem"

Roets ondersteun dit dan met ‘n substack inskrywing wat uitwys

  • Nuwe onderwyswetgewing in Suid-Afrika kan lei tot die ineenstorting van die regering
  • Die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette sal die klein persentasie van goed funksionerende skole in Suid-Afrika vernietig indien dit geïmplementeer word.

Roets skryf: Dit is omdat die ANC-regering poog om “toegang” tot hierdie goed funksionerende skole te open deur die Afrikaanse skole te dwing om Engels te word, en ook om hulle te dwing om kinders in te neem van townships en ander gebiede waarin daar nie funksionerende skole is nie. Ideologies het die voorstanders van BELA dit duidelik gemaak dat hulle 'n haat vir Afrikaans as taal koester, en dat hulle Afrikaanse skole in Engelse skole wil omskep. Ironies genoeg word Engels aan kinders gedwing onder die vaandel van “dekolonisering”.

Die Bela stryd word gevoer teen ‘n agtergrond van waar ‘n gedeelte van die RNE vyandig is teenoor Afrikaanse skole en ‘n ander gedeelte van die RNE ondersteun Afrikaanse skole. Net soos wat Bela ‘n twispunt is, is daar ander twispunte in die RNE waar daar nie oor kwessies saamgestem word nie. Die kuns van ‘n suksesvolle RNE sal wees om alle rolspelers te akkommodeer.

Comments (0)

To leave or reply to comments, please download free Podbean or

No Comments

Copyright 2023 All rights reserved.

Podcast Powered By Podbean

Version: 20241125