Nuusagenda

Die Nuusagenda kyk na die belangrikste nuus van die dag in Suid-Afrika. Die Nuusagenda is opgestel en opgeneem deur Reint Dykema, Kennisbestuurder by AfriForum Navorsingsinstituut.

Listen on:

  • Apple Podcasts
  • Podbean App
  • Spotify
  • Amazon Music
  • TuneIn + Alexa
  • iHeartRadio
  • PlayerFM
  • Listen Notes
  • Podchaser
  • BoomPlay

Episodes

Monday Mar 02, 2026


Aanval
Maroela Media berig: Israel, VSA slaan toe op Iran in gesamentlike aanval
“Die staat Israel het ʼn voorkomingsaanval op Iran geloods, en ʼn spesiale en onmiddellike staat van nood is reg oor die land afgekondig,” het Israel Katz, Israeliese Verdedigingsminister, gesê.
Ajatolla Ali Khamenei dood
Maroela Media berig:   Dood van Iran se opperleier bevestig; Golfstate deur Iran geteiken
Iranse staatsmedia en pres. Donald Trump het bevestig ajatolla Ali Khamenei, Iran se opperleier, is dood. Die VSA en Israel het Saterdag ’n vlaag aanvalle teen teikens in Iran van stapel gestuur, wat vinnige vergelding deur die Islamitiese Republiek ontketen het.
Amerikaanse vegvliegtuie stort neer
Maroela Media berig:   Regstreeks |Amerikaanse vegvliegtuie stort neer
Iran se Rewolusionêre Wagte het intussen gesê hy het Maandag nog missielaanvalle op Israel uitgevoer.
VSA doelwit
Netwerk 24 berig: VSA, Israel tref Iran se leiers; Iran neem wraak
Die Amerikaanse en Israeliese aanval Saterdag op Iran, wat die lewe van die ajatolla Ali Chamenei, Iran se 86-jarige opperleier, en sy magtige binnekring van militêre bevelvoerders geëis het, is deur pres. Donald Trump beskryf as dié grootste enkele geleentheid vir Iraniërs “om hul land terug te vat”.
Trump het Sondag te midde van teenaanvalle deur Iran ernstige waarskuwings aan dié land gerig dat die onderskeie magte in Iran die kans moet gebruik om oor te gee terwyl hulle kan. “Nou is dit vir immuniteit. Later gaan dit wees om die dood vry te spring,” was sy boodskap.
Hy het ook gewaarsku die swaar bombardering van spesifieke plekke van belang sal voortduur in die komende week of so lank as wat nodig is om vrede in die Midde-Ooste te bewerkstellig.
Konteks oor die oorlog
Dirk Hermann video Dag 3 van die oorlog in Iran. Ek het vir Jaco Kleynhans gevra om vir ons die groter konteks te gee.
Maroela Media berig: ‘VSA, Israel soek regimeverandering in Iran’ – Jaco Kleynhans
“Dit is duidelik dat die VSA en Israel ʼn regimeverandering in Iran wil sien. Daarom val die VSA nie net militêre teikens in Iran aan nie, maar ook politieke teikens soos die kantore van die godsdienstige opperleier, Ali Khamenei, en die kantore van verskeie regeringsministers,” sê Kleynhans.
Styging in petrolprys een van die uitkomste van oorlog
Petrol styg met 20 sent per liter terwyl diesel met 62 sent per liter sal styg.

Thursday Feb 26, 2026


AfriForum reaksie
Begroting 2026: Belastinglas bly steeds groot en belastingbasis te klein – AfriForum
 AfriForum waarsku dat die land se belastingbetalers steeds onder geweldige druk verkeer ondanks verskeie nugtere begrotingsbesluite wat Enoch Godongwana, minister van Finansies, vandag tydens sy begrotingsrede in Kaapstad aangekondig het.
 Die burgerregteorganisasie beskryf die afskaffing van R20 miljard se belastingverhogings wat voorlopig in die Mei 2025-begroting ingesluit was, en die aanpassing op belastingkerwe en -kortings vir persoonlike inkomstebelasting ooreenkomstig inflasie as nugtere besluite. Die verhoging van die drempel vir verpligte BTW-registrasie vir kleinsakeondernemings van R1 miljoen na R2,3 miljoen is ook ’n welkome stap. AfriForum maan egter dat die privaat sektor, gemeenskappe en individuele belastingbetalers meer erkenning moet kry vir die relatief beter fiskale posisie wat hierdie jaar aangekondig is.
‘Belastingbetalers steeds verloorders’ – SNI
Verligting in begrotingsrede; ‘belastingbetalers steeds verloorders’ – SNI
Die begrotingsrede het gemengde gevoelens onder ekonome en navorsers ontlok.
Begroting-2026: Oplaas – belastingverligting
Danksy R21,3 miljard meer belasting wat in die afgelope boekjaar ingevorder is, hoef die staat nie meer belastings te verhoog om R20 miljard meer in te vorder, soos wat hy in verlede jaar se begroting gedreig het nie.
Uiteindelik is daar ná twee jaar weer inflasie-aanpassings in die kerwe vir persoonlike inkomstebelasting en die mediese krediete en belastingdrempels word ook vir inflasie aangepas, blyk uit die jongste begroting.
Dit sal huishoudings en ondernemings in staat stel om meer van hul inkomste vir hulself te hou, wat die ekonomiese herstel sal ondersteun.
‘Meer as belastingverlaging nodig vir groei’ – DA
Begroting 2026 | ‘Meer as belastingverlaging nodig vir groei’ – DA
Volgens die VF Plus groei die ekonomie te stadig vir waarlik vinnige oplewing met ʼn geskatte 1,6% vir vanjaar teenoor die 1,2% van verlede jaar weens die remskoene van skadelike beleid soos swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie.
Toets in uitvoering
Begroting 2026 | ‘Ware toets lê in uitvoering, kapasiteit en vertroue’
“Dit verg die daadwerklike wegneem van korrupsie, die aanstelling van bevoegde en kundige persone in sleutelposisies en ʼn prestasiegedrewe kultuur in die staatsdiens.”

Wednesday Feb 25, 2026


Fiskale kruispad
Maroela Media berig: Begroting 2026 | Fiskale kruispad vereis dapper, praktiese hervorming
“Volgehoue lae groei, stygende openbare skuld, chroniese infrastruktuurmislukkings en maatskaplike druk kom saam in ʼn oomblik wat duidelike keuses en dapper, praktiese hervorming vereis.”
Die ontleder Daniel Silke @DanielSilke  wys uit: “Vandag se begroting is dalk die eerste – in 'n lang tyd – wat groen lote aandui in 'n ekonomie wat erg beskadig is deur slegte ideologiese keuses en jammerlike implementering. As die nuus beter is, is dit as gevolg van die verminderde ANC-monopolie op besluitneming”
Geen drama verwag
Netwerk 24 berig: Geen politieke drama by vanjaar se begrotingsrede verwag
As Enoch Godongwana, minister van finansies, in sy begrotingsrede Woensdag hou by wat met die vennote in die regering van nasionale eenheid (RNE) ooreengekom is, sal daar waarskynlik nie probleme of politieke drama met vanjaar se begroting ervaar word soos verlede jaar nie.
Dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus, ’n RNE-vennoot, het dít Dinsdag gesê nadat Netwerk24 hom en sommige ander RNE-vennote genader het om vas te stel of daar vanjaar genoeg met hulle gekonsulteer is om ’n politieke uitval soos met die 2025-begroting te verhinder.
John Steenhuisen, DA-leier, sê ook konsultasies met RNE-vennote het sedertdien verbeter, “hoewel daar steeds ruimte vir verdere verbetering is. Ons verwag egter geen probleme Woensdag nie.”
               Rol van korrupsie en rassediskriminerende wette om die ekonomie te ondermyn
Ernst van Zyl skryf: Die waarheid kom uit. Volgens die Wall Street Journal: 'n Lang lys van onlangse hoëprofiel-korrupsieskandale, dikwels gekoppel aan die regering se rassediskriminerende wette, het Suid-Afrika se reputasie onder internasionale beleggers drasties ondermyn.
Fokus op infrastruktuur ontwikkeling
Business Day berig Nedbank-ekonoom wil graag sien dat infrastruktuurverbintenisse nagekom word
Suid-Afrika se verbeterende makro-ekonomiese agtergrond lê die grondslag vir 'n meer konstruktiewe groeinarratief voor minister van finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsaanbieding op Woensdag, sê 'n Nedbank-ekonoom.
Die boustene begin bymekaarkom namate inflasie laer is, rentekoerse daal, verbruikers weer bestee en die regering uiteindelik kan begin om sy infrastruktuurplanne na te kom, het Nedbank se hoofekonoom, Nicky Weimar, gesê.
“As jy die begroting dophou, hou dit hoofsaaklik daarvoor dop,” het Weimar gesê met verwysing na infrastruktuurlewering.
Die regering het meer as R1 triljoen in openbare befondsing vir infrastruktuurprojekte oor die volgende drie jaar toegewy.

Tuesday Feb 24, 2026


Oorbelaste SA’ners soek dringend verligting, sê partye
Netwerk 24 berig Oorbelaste SA’ners soek dringend verligting, sê partye
Geen belastingverhogings. Dít was Maandag die duidelike boodskap van politieke partye én burgerlike organisasies in aanloop tot vanjaar se begrotingsrede wat Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag in die parlement sal lewer.
Die DA glo Suid-Afrikaners word tans oorbelas en dat Godongwana in sy begrotingsrede eerder aanpassings in belastinggroepe en -kortings in ooreenstemming met inflasie moet aankondig.
Dié tweede grootste vennoot in die regering van nasionale eenheid (RNE) het Maandag so gesê toe hy, soos ander politieke en burgerlike organisasies, sy begrotingsverwagtinge uitgestippel het.
Alle oë sal vanjaar op enige belastingverhogings in die begrotingsrede wees, veral ná verlede jaar se politieke uitval wat daartoe gelei het dat Godongwana se aanvanklike begrotingsrede vir 2025 op die nippertjie uitgestel moes word. Dit nadat die DA en ander RNE-vennote erg kapsie gemaak het teen planne daarin om belasting op toegevoegde waarde (BTW) met twee persentasiepunte te verhoog as ’n manier om staatsinkomste aan te vul. Dié BTW-plan is weens politieke druk van binne en buite die RNE laat vaar en die 2025-begroting is uiteindelik tydens ’n derde probeerslag aanvaar.
Suid-Afrikaanse belastingbetalers betaal meer vir minder
Dailyinvestor berig:  Suid-Afrikaners sal na verwagting minder regeringsdienste vir hul belasting ontvang vir die volgende paar jaar, aangesien die Tesourie se fiskale konsolidasiepogings na verwagting tot 2028 sal voortduur.
Beskryf as 'n "pynlike proses", behels fiskale konsolidasie die verhoging van belastinginkomste terwyl staatsbesteding beperk word.
Struktuur van BTW ontmoedig groei
Netwerk 24 berig: ‘Ek hou my onderneming klein’: Hoe SA se verouderde BTW-kerf groei kniehalter
Terwyl daar die afgelope twee weke in die aanloop tot Woensdag se begrotingsrede algemeen aanvaar is dat die tesourie in alle waarskynlikheid die BTW-koers onveranderd gaan laat, is daar ’n deel van dié kwessie wat meer as ’n dekade al onaangeraak bly en moontlik wesenlik daartoe bydra om ekonomiese groei te knou.
Sedert 2009 is enige onderneming met ’n omset van meer as R1 miljoen per jaar verplig om vir BTW te registreer, maar daardie kerf is die afgelope 17 jaar nooit weer aangepas nie.
Die ongewensde impak hiervan is dat talle plaaslike klein- en middelslagondernemings (KMO’s) wat reeds veg om oorlewing weens burokratiese rompslomp en stygende koste, doelbewus nie hul onderneming uitbrei nie sodat hulle die BTW-kerf kan vermy.

Monday Feb 23, 2026


Behoefte aan privaat verkryging entstowwe
AfriForum sê regeringsmonopolie oor BKS-entstowwe is ‘gedoem om te misluk’
In ʼn prokureursbrief wat aan John Steenhuisen, die minister van landbou, gestuur is, stel AfriForum dit onomwonde dat die staat se huidige benadering irrasioneel is.
AfriForum onderhandel met rolspelers om verkryging van BEK-entstowwe privaat te hanteer
 AfriForum onderhandel tans met kundige rolspelers om te help toesien dat die privaat sektor die verkryging, verkope en verspreiding van bek-en-klouseer (BEK)-entstowwe kan onderneem. Dié strategie vorm deel van die organisasie se teenvoeter vir die regering se oormatige en onverantwoordelike sentralisering van mag ten opsigte van die nasionale BEK-krisis wat ten koste van die landboubedryf en verbruikers toegepas word.
Een miljoen entstofdosisse in SA maar gaan nie noodwendig werk nie
BKS | Een miljoen entstofdosisse pas in SA geland
Suid-Afrika het sy eerste grootmaat-aflewering van hoogs doeltreffende entstofdosisse teen bek-en-klouseer (BKS) ontvang, nadat een miljoen dosisse Saterdag by die OR Tambo Internasionale Lughawe geland het.
Private veeartse mag nou BKS-entstof toedien
Private veeartse mag nou BKS-entstof toedien
Die DA het die aankoms van een miljoen entstofdosisse teen bek-en-klouseer (BKS) verwelkom en sê die besluit om private veeartse toe te laat om die entstof toe te dien, is ’n belangrike stap om die land se reaksie op die siekte te versnel.
Gesant aangestel om minister te help
Ramaphosa stel gesant vir landbou aan
Volgens die presidensie is die aanstelling gedoen “met die oog op die belangrikheid van landbou in Suid-Afrika se ekonomiese groei, herhalende uitdagings in die sektor en groeigeleenthede plaaslik en internasionaal”.
Landbougesant eintlik president se ‘mosie van wantroue in eie ministers’
Volgens die VF Plus het nie John Steenhuisen, minister van landbou, of Mzwanele Nyhontso, minister van grondhervorming en landelike ontwikkeling, sedert hul aanstelling beïndruk nie.
Nuwe gesant sal rol speel in bek-en-klouseer-krisis
Dr. Theo de Jager, uitvoerende hoof van die landbou-organisasie Saai, sê by navraag hulle is egter ’n “bietjie skepties” oor Sihlobo se aanstelling en wonder presies wat sy werk sal behels en of hy as “kinderoppasser vir die minister sal dien”.

Thursday Feb 19, 2026


NGV gaan nog “spook” as beleid
Ernst van Zyl skryf: Gister het AfriForum aangekondig dat ons pres. Ramaphosa en die Suid-Afrikaanse regering dagvaar oor hul poging om gesondheidsorg deur middel van NGV te kaap. Ons het 'n perskonferensie by die verlate Kempton Park "spookhospitaal" gehou, want hoekom bloot die potensiële toekoms onder NGV beskryf as ons dit vir mense kan wys?
AfriForum dagvaar president en kie oor grondwetlikheid van NGV-wet
AfriForum video AfriForum ontbloot die ware agenda agter NGV.
AfriForum se Ernst van Zyl verskaf die politieke konteks agter Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), en ontbloot die bose ideologie wat dit dryf.  
Staan saam met AfriForum teen NGV. Besoek www.jougesondheid.co.za.
Maroela Media berig: Ramaphosa en kie gedagvaar oor NGV
Die stap is tydens ’n mediakonferensie by die vervalle Kempton Park-hospitaal aangekondig as ’n waarskuwing van dit wat op die land se gesondheidsektor kan wag sou NGV in werking gestel word.
Die Burger berig op hul voorblad AfriForum dagvaar Ramaphosa en ander oor NGV
Die burgerregteorganisasie AfriForum het Woensdag ’n dagvaarding op onder andere pres. Cyril Ramaphosa laat beteken as deel van die organisasie se regstappe om die grondwetlikheid van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te betwis.
Ander regeringslui wat by die dagvaarding ingesluit word, is dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, Enoch Godongwana, minister van finansies, Thoko Didiza, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), en Refilwe Mtsweni-Tsipane, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).
AfriForum het dié stap Woensdag op ’n mediakonferensie by die vervalle Kempton Park-hospitaal aangekondig.
Die party meen dié hospitaal dien as ’n waarskuwing van dit wat op die land se gesondheidsektor kan wag sou NGV in werking gestel word.
Wian Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger in die saak, sê AfriForum se regstappe berus daarop dat die NGV-wet in stryd met die Grondwet is en daarom ongeldig verklaar en na die parlement terugverwys moet word.
“Enkele punte van ongrondwetlikheid waarteen AfriForum beswaar maak, sluit in die verwatering van provinsiale regerings se grondwetlike magte, die inperking van pasiënte se vryheid van keuse, die inperking van die kliniese onafhanklikheid van gesondheidspraktisyns en die gebrek aan rasionaliteit van die NGV-raamwerk weens die ekonomiese onwerkbaarheid daarvan,” sê Spies.

Wednesday Feb 18, 2026


Rampbestuursentrum draai land en regering ’n rat voor die oë
Verklaar BKS, waterkrisis, vloede amptelik as nasionale rampe, eis AfriForum ná rampklassifikasie
AfriForum doen ’n dringende beroep op Velenkosini Hlabisa, die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, om bek-en-klouseer (BKS), die land se waterkrisis en die onlangse verwoestende vloede in die noorde van die land amptelik as nasionale rampe te verklaar. Die burgerregteorganisasie eis verder dat die nodige regulasies in die Staatskoerant gepubliseer word om die volle wetlike meganismes in werking te stel om hierdie krisisse daadwerklik te bekamp.
Dié skriftelike versoek, wat AfriForum Woensdag aan die minister gerig het, volg nadat die Nasionale Rampbestuursentrum BKS en die vloede nog net geklassifiseer het as rampe, maar dit nog nie as sodanig verklaar het nie. Volgens AfriForum misbruik die Rampbestuursentrum die klassifikasie van ’n ramp om gemeenskappe en politici se monde te snoer in gevalle waar ’n ramp formeel verklaar moet word.
Kragtens artikel 23 van die Rampbestuurswet 57 van 2002 word daar met die klassifikasie van ’n ramp bloot erken dat ’n ernstige situasie bestaan en word daar daardeur bepaal watter sfeer van regering die aangeleentheid moet hanteer. Daarenteen verseker die verklaring van ’n ramp, soos deur artikel 27 van die wet omskryf, die beskikbaarstelling van onder meer hulpbronne, noodaankope en fondse.
Statistiek
Landboucom berig: Statistiek oor BKS-uitbrekings bevraagteken
Die Vrystaatse departement van landbou het op 13 Februarie in ’n verklaring bekend gemaak dat 344 gevalle van BKS tot dusver in dié provinsie bevestig is.
KwaZulu-Natal se veeartsenydienste het gesê 17 833 gevalle was reeds aan die begin van die maand in dié provinsie bevestig.
Die nasionale departement van landbou het in ’n tegniese verslag op 16 Februarie aangedui dat die totale aantal gevalle in Suid-Afrika, wat by die wêreldorganisasie vir dieregesondheid (WOAH) aangemeld is, in daardie stadium 865 was.
Entstof ingevoer
Maroela Media berig: Bek-en-klou | Miljoen entstowwe op pad na SA
Private veeartse sal ook nou toegelaat word om te help met die nasionale inentingsprogram.
Landboucom berig: BKS: Private veeartse mag inent; miljoen dosisse Saterdag in SA
’n Miljoen dosisse Argentynse entstof sal eerskomende Saterdag in Suid-Afrika aankom, het John Steenhuisen, minister van landbou, op Dinsdag 17 Februarie aangekondig. Hy het ook bekend gemaak dat private veeartse nou mag registreer om die staat in sy massa-inentingsprogram te help.

Tuesday Feb 17, 2026


Verklaring van ramp
Landboucom berig: BKS: Verklaring van ramp maak veranderinge aan wetgewing moontlik
Die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) kom uit ’n tyd toe boerdery aansienlik anders as vandag gelyk het. Dit is egter steeds die wet wat geld vir die bestuur van dieresiektes, aangesien die Wet op Dieregesondheid (Wet 7 van 2002) steeds nie toegepas word nie.
Dr. Gideon Brückner, voormalige direkteur van dieregesondheid in die departement van landbou, het aan Landbouweekblad gesê hoewel oudpres. Thabo Mbeki dié wet al in 2002 onderteken het, is dit steeds nie gepromulgeer nie. Hy het egter in die afgelope tyd terugvoering ontvang dat daaraan gewerk word om dié wet ingestel te kry. Dis nie duidelik hoekom dié wet nog nie ingestel is nie.
Intussen moet die departement egter die 1984-wet toepas. Die verklaring van die nasionale ramp gee die departement egter nou die geleentheid om die wetgewing aan te pas om die krisis te bestuur terwyl die verklaring van die ramp geldig is, het Jurgens Dyssel, hoofdirekteur van beleid, institusionele ontwikkeling en nakomingsbestuur van die nasionale rampbestuursentrum, verduidelik. Hy het gesê die minister van landbou het nie self die mag om bestaande wetgewing te verander wanneer dit problematies is nie. Hy het verduidelik dat soos in die inperkingstydperk gedurende die covid-pandemie stel die rampverklaring die departement nou in staat stel om wetgewing makliker aan te pas om die krisis beter te bestuur.
Saai toets boere en publiek se gevoel oor BKS
Saai Boere het hul stem laat hoor in ’n landwye BEK-krisispeiling. Die finale resultate bevestig wat reeds op plase ervaar word:  Oorweldigende frustrasie oor die stadige reaksie,  Groot kommer oor entstof-uitrol en voorsiening,  Die gevoel dat kundigheid opsy geskuif word,  ’n Ernstige gebrek aan aanspreeklikheid.
Alhoewel BEK as ’n nasionale ramp verklaar is, bly die kernvraag: gaan daar vinnig en prakties opgetree word? Met sowat 14 miljoen beeste wat beskerming benodig, kan beperkte vrystellings en sentralisering nie die krisis oplos nie. Volle benutting van bestaande kapasiteit is nou krities.  Sien die volledige resultate
Danie Odendaal
kykNET Argief In Gesprek: Dr. Danie Odendaal | 16 Februarie 2026 | kykNET
Lourensa gesels met dr. Danie Odendaal wat deur die minister van landbou, John Steenhuisen uit die ministeriële taakspan vir staatsbeheerde siektes geskop is.
Probleme in die Vrystaat
Netwerk 24 berig: Vrystaat sonder enkele BKS-entstof terwyl Wes-Kaap reeds inent
Terwyl die Wes-Kaap – wat eers onlangs sy eerste gevalle van bek-en-klouseer (BKS) aangemeld het – reeds met inentings van vee begin het, is daar tans nie ’n enkele dosis entstof in die Vrystaat beskikbaar nie.

Monday Feb 16, 2026


Waarskuwings
AfriForum waarsku al meer as 'n dekade lank teen die risiko van 'n watervoorsienings krisis wat Johannesburg en Gauteng tref. Nou is dit hier  
AfriForum Documentary: Running dry – A nation on the brink
AfriForum veg teen die waterkrisis in Suid-Afrika
AfriForum video  Waterkrisis! @AfriForum se @ConCaracal gesels met @LambertdeKlerk, hoof van Omgewingsake, oor die waterkrisis wat tans afspeel in Suid-Afrika, en oor hoe @AfriForum help om gemeenskappe weerbaar te maak teen die krisis, asook meer staatsbestand maak. 
Taakspan
Nog ʼn taakspan vir waterkrisis: ‘Ramaphosa bou lugkastele’
Die skeptisisme spruit uit ʼn geskiedenis van taakspanne wat oënskynlik min tot stand gebring het.
Ministers aangesê om staatsrede te mis weens waterkrisis
Twee ministers is opdrag gegee om eerder aandag te gee aan Johannesburg se waterkrisis as om Donderdagaand se staatsrede in Kaapstad by te woon.
-             Gauteng
Waterkrisis | ‘Dringende ingryping nodig’ – VF Plus
“Die tyd vir verskonings is verby. Inwoners verdien betroubare basiese dienste.”
Jhb-wateronderbrekings
Jhb-wateronderbrekings | ‘Ruik my! Ek het geen water vir meer as 24 dae’
Ongeveer 150 inwoners van Johannesburg het vandeesweek met plakkate en leë plastiekbottels in die strate van Melville teen die voortdurende wateronderbrekings betoog.
Waterkrisis: Jhb Water mik hoog, maar ‘skiet heeltemal te kort’
Johannesburg Water het in Mei 2025 groot beloftes gemaak, maar ses maande later nie naastenby sy teikens behaal nie. Die wiele het teen vroeg Februarie vanjaar behoorlik begin afkom met sommige inwoners wat nou al meer as drie weke sonder water sit.
Johannesburg Water het in sy sakeplan in Mei verlede jaar beloof om 85% van gebarste waterpype en lekkasies binne 48 uur te herstel, en alle fakture binne 30 dae te betaal.
Luidens die rekords van die Parlementêre Moniteringsgroep (PMG) het die ouditeur-generaal (OG) die parlement se komitee oor water en sanitasie in November 2025 meegedeel dat net 67% van gebarste pype binne 48 uur herstel is. Dit is teenoor die teiken van 85%.

Thursday Feb 12, 2026


Lesufi vra verskoning oor opmerking
Maroela media berig Lesufi ‘jammer’ oor opmerkings oor water
 Lesufi het Woensdag tydens ʼn konferensie oor Gauteng se wateruitdagings aan inwoners van Johannesburg gesê dat hy ook wateronderbrekings ervaar en soms by hotelle moet bad.
Video Hotel bad kommentaar veroorsaak herrie op sosiale media
-             Lesufi moet in hotel gaan bad
Netwerk 24 berig: Waterkrisis in Goudstad: ‘Ek moet by hotel stort’ – Lesufi
Die waterkrisis in die Johannesburg-metro is nie net weens instandhoudingswerk wat nie gedoen is nie, maar ook weens ’n ontploffing wat die waternetwerk gepootjie het, het Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, Woensdag in Marks Park, Emmarentia, aan Netwerk24 gesê.
Lesufi het saam met Pemmy Majodina, minister van water en sanitasie, en David Mahlobo, adjunkminister van water en sanitasie, ’n toesigbesoek aan onder meer Emmarentia afgelê.
Inwoners van woonbuurte oor die metro heen en ook ander gebiede wat van Rand Water afhanklik is, gaan gebuk onder ’n voortslepende waterkrisis wat al weke lank duur.
“Die raadslid wat die gemeenskap moet inlig oor wat die metro doen, woon glad nie vergaderings by nie en sy moet die gemeenskap inlig,” het Lesufi gesê.
Volgens hom probeer politieke partye munt slaan uit die waterkrisis.
Helen Zille, DA-burgemeesterskandidaat vir die Johannesburg-metro, het Woensdag in Bruma aan Netwerk24 gesê politiek is die enigste oplossing vir die krisis. Doeltreffende politieke leierskap is die antwoord om die waterkrisis behoorlik te pak.
Lesufi het gesê mense moet nie onder die wanindruk verkeer dat politici nié deur die waterkrisis geraak word nie.
“Ons wil nie ook die skuld vir die krisis op ander mense pak nie.”
Hy sê dat dit belangrik is om aan die gemeenskap te verduidelik hoekom die waterkrisis voortduur.
Mahlobo het gesê ’n ontploffing by die Zuikerbosch-waterpompstasie het erge druk op die waternetwerk geplaas.
Daarby het die warm weer daartoe bygedra dat inwoners meer water gebruik en die vervalle infrastruktuur, wat lekkasies insluit, plaas ook druk op die netwerk.
SONA 2026
Maroela Media berig: Ministers aangesê om staatsrede te mis weens waterkrisis
Twee ministers is opdrag gegee om eerder aandag te gee aan Johannesburg se waterkrisis as om Donderdagaand se staatsrede in Kaapstad by te woon.

Copyright 2023 All rights reserved.

Podcast Powered By Podbean

Version: 20241125