Nuusagenda

Die Nuusagenda kyk na die belangrikste nuus van die dag in Suid-Afrika. Die Nuusagenda is opgestel en opgeneem deur Reint Dykema, Kennisbestuurder by AfriForum Navorsingsinstituut.

Listen on:

  • Apple Podcasts
  • Podbean App
  • Spotify
  • Amazon Music
  • TuneIn + Alexa
  • iHeartRadio
  • PlayerFM
  • Listen Notes
  • Podchaser
  • BoomPlay

Episodes

Wednesday May 13, 2026


Druk op Cyril Ramaphosa oor Phala Phala-skandaal neem toe
Die druk op president Cyril Ramaphosa oor die Phala Phala-skandaal het die afgelope week merkbaar toegeneem. Dit is nie meer net politieke geraas nie, maar ’n veelvlakkige dinamika wat parlementêr, geregtelik én strafregtelik ontvou. Aan die Ramaphosa kamp het hy goeie regsverteenwoordigers maar sy politieke adviseurs gee nie noodwendig die korrekte advies nie.
Huidige bewegings
Parlementêre druk: Die EFF, IVP (Inkatha) en ActionSA dring aan op ’n dringende parlementêre komitee om te besluit of Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging (impeachment) geplaas moet word. Die EFF het reeds aan Speaker Thoko Didiza geskryf om die programkomitee voor die einde van die week te laat vergader. Die Konstitusionele Hof se beslissing dat die parlement se Desember 2022-afstemming ongeldig was, het die deur hiervoor oopgemaak.
Strafregtelike druk: ActionSA dien Woensdag strafregtelike klagte in by die Bela-Bela-polisiestasie. Dit sluit meineed, bedrog, valse verklarings en oortredings van die Wet op die Voorkoming van Korrupte Bedrywighede in. Dit dwing die polisie om ’n formele ondersoek te begin.
Politieke reaksies: Die MKP wil selfs die Openbare Beskermer (adv. Kholeka Gcaleka) in ’n staat van beskuldiging plaas en het teen Ramaphosa betoog by die Toerisme-indaba in Durban. Die SAKP sinspeel dat hy nie meer aan die leierskapvereistes voldoen nie. VF Plus beskryf dit as ’n desperate poging om homself en die ANC te red – ’n stryd om die “siel en mag” van die party.
Moontlike toekoms-scenario’s
Volgens konstitusionele kenner prof. Koos Malan is Ramaphosa se hofaansoek vir hersiening van die Art. 89-komitee se bevindings (wat prima facie-getuienis van wangedrag gevind het) hoofsaaklik ’n vertragingstaktiek (“Stalingrad-taktiek”).
As die hersiening slaag: ’n Nuwe paneel moet aangestel word. Die parlementêre proses word verder vertraag.
As dit misluk: Die parlementêre komitee kan voortgaan. Ramaphosa sal ondervra word deur opposisie-LP’s soos Glynnis Breytenbach (DA) en Dereleen James (ActionSA) – ’n “vernederende en uitmergelende” proses wat hy graag wil vermy, veral voor munisipale verkiesings.
Strafregtelik: Selfs al slaag die hofaansoek, kan die polisieondersoek onafhanklik voortgaan. Dit skep langtermyn-regsonsekerheid.
Selfs as die parlementêre proses voortgaan, beteken dit nie outomatiese afdanking nie. Dit is ’n politieke en morele slag wat die ANC verder kan verswak, maar Ramaphosa bly in posisie solank hy nie skuldig bevind word nie. Anders as Jacob Zuma se Nkandla-saak (misbruik van staatsgeld), word Ramaphosa nie daarvan beskuldig dat hy staatsgeld gebruik het nie – iets wat die ANC-jeugliga benadruk.
Die volgende weke sal wys of die vertragingstaktiek werk, of dat die prosesse gelyktydig (en uitputtend) teen hom sal loop. Ramaphosa speel vir tyd, terwyl die opposisie alles inspan om hom polities te knak voor die plaaslike verkiesings.

Tuesday May 12, 2026


Cyril Ramaphosa se posisie as president van Suid-Afrika in Mei 2026
Roman Cabanac se waarneming op X lees soos volg: “Politics is about power – and has nothing to do with being nice...” Hy sien Ramaphosa as voorbeeld van ’n leier wat sy teenstanders nie hard genoeg aangepak het nie, en nie genoeg sinvolle ekonomiese hervormings deurgevoer het om openbare vertroue te herstel nie. Dit het hom kwesbaar gemaak vir wat nou gebeur.
Die Phala Phala skandaal is soos Ramaphosa se presidentskap. Dit neem tyd om te ontwikkel. Dit is ‘n korttermyn wen vir Ramaphosa en die ANC maar langtermyn verlies vir Suid-Afrika
Presidente soos Thabo Mbeki en Jacob Zuma moes vroegtydig bedank as die president van die land. Dat geen ANC-leier sy termyn as president van Suid-Afrika voltooi nie, sê alles oor hoe diep die verrotting in die party sit. Dit is net Nelson Mandela wat sy volledige termyn gedien het. Die vraag word gevra of Cyril Ramaphosa die patroon gaan voortsit en uitree voordat sy termyn verstreke is?
Ramaphosa gaan nie bedank nie, neem verslag op hersiening
Netwerk 24 berig Ramaphosa gaan nie bedank nie, neem verslag op hersiening Volgens Ramaphosa is daar ’n goeie kans dat ’n hof die verslag gebrekkig sal bevind. Hy meen getuienis berus op hoorsê en daar kan straks fout gevind word met die manier waarop die paneel tot sy slotsom gekom het.
Ramaphosa posisie broos
In Mei 2026 bly Ramaphosa president, maar sy posisie is broos. Ná die ANC se verlies van meerderheid in 2024 lei hy ’n RNE saam met partye soos die DA. Dit bied stabiliteit, maar ook konstante kompromie. Sy staatsrede (SONA) in Februarie 2026 het klem gelê op werkskepping, misdaadbestryding en dienslewering, tog bly werkloosheid hoog, ongelykheid diep en plaaslike regering in chaos.
Ramaphosa is met sy rug teen die muur. Intern is die ANC verdeeld en venote soos die SAKP beraam planne om aan die musipale verkiesing later vanjaar onder hul eie vaandel deel te neem.
Die Phala Phala-skandaal hang
Die Phala Phala-skandaal hang soos ’n swaard oor Ramaphosa se kop. Onlangse Konstitusionele Hof-uitsprake het parlement se hantering van die saak ongrondwetlik verklaar, wat nuwe druk plaas vir ’n moontlike mosie van wantroue of selfs afsetting. Die parlement moet sy gang gaan soos bepaal deur die hof.  Kritici argumenteer dat Ramaphosa se versigtige, akkommoderende styl hom verhinder het om korrupsie (veral van die Zuma-era) genadeloos uit te roei.
Ramaphosa nalatenskap
Vandag staan Ramaphosa as ’n president in sy laaste termyn, vasgevang tussen ’n RNE wat werk maar nie transformeer nie, en ’n party wat steeds verdeeld is.  Met die ekonomie gaan dit sleg en werkloosheid bly styg.  Sy nalatenskap hang af of hy nou, met die mag wat hy nog het, die moeilike besluite neem wat hy vroeër vermy het.

Monday May 11, 2026


Nasionale Rampverklaring – Weersituasie 11 Mei 2026
Dr Bongani Sithole, hoof van die Nasionale Rampbestuurssentrum (NRBS), het op Saterdag 9 Mei 2026 ’n nasionale ramp verklaar ingevolge artikel 23 van die Rampbestuurswet. Die verklaring volg op verwoestende weer wat die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Kaap, Noordwes, Vrystaat en Mpumalanga getref het. Swaar reënval, vloede, donderstorms, skadelike winde en sneeuval het tot lewensverlies, massiewe infrastruktuur- en omgewingskade, asook ontwrigting van basiese dienste gelei.
Die Wes-Kaap, veral die Tuinroete, is swaar getref. Meer as 1 000 mm reën het sedert 5 Mei in dele van die Langkloof (by Krakeel) geval. Die Gariepdam staan tans op 121% vol. Nature’s Valley-kamp in die Tsitsikamma-deel van die Tuinroete Nasionale Park is tydelik gesluit weens oorstromings.
Huidige en komende gevaar (11–12 Mei)
’n Intensiewe atmosferiese rivier (Storm Van Hunks) het vanoggend die Wes-Kaap bereik. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Oranje Vlak 8-waarskuwings uitgereik vir bergagtige areas van Drakenstein, Stellenbosch, Theewaterskloof, Stad Kaapstad, Breedevallei en Witzenberg. Oranje Vlak 6-waarskuwings geld vir die suidelike Weskus en Overberg. Sterk tot stormsterk winde, swaar reën, grondverskuiwings, rotsstortings, kitsoorstromings en sneeu oor hoë gebiede word verwag tot Dinsdag. Bejaardes en kleinveeboere word spesifiek gewaarsku vir uiters koue, nat en winderige toestande. Daar het reeds een persoon gesterf in die nuutste storm.
Enorme skade
In die Gamtoosvallei (Oos-Kaap) is die skade enorm. Die Kouga-munisipaliteit is verwoes deur vloede. Volgens burgemeester Hattingh Bornman sal infrastruktuurskade alleen honderde miljoene rande beloop. Huise, die Ferry Hotel, landerye, besproeiingslyne en plaasimplemente is weggespoel. Sitrusboorde in Patensie en Hankey is oorstroom, terwyl groenteboere by die riviermond hul hele oeste verloor het. Grewar Oosthuizen van Agri Gamtoos beskryf dit as ’n “hartseer saak” – baie boere se kontantvloei gaan opdroog. Altesaam 49 mense moes Vrydag uit vloedgebiede gered word. Geen lewens is egter in hierdie vloed verloor nie.
Die NRBS het owerhede op alle vlakke versoek om dringend omvattende planne vir noodleniging en herstel op te stel. Plaaslike rampe word binnekort in verskeie munisipaliteite verwag om toegang tot fondse te kry.
Kritieke fase
Suid-Afrika bevind hom dus in ’n kritieke fase waar natuurrampe, hoë damvlakke en voortgesette koue fronte ’n groot uitdaging vir boere, munisipaliteite en inwoners in die suidelike en oostelike dele van die land inhou.
Daar gaan ook reuse versekerings eise inkom van vebruikers wat skade gelei het. Sommige skole in die Wes-Kaap was gesluit  met meer skole wat Dinsdag gesluit word tot die storm verby is.  

Friday Apr 24, 2026


Ramaphosa skors Nasionale Polisiekommissaris Fannie Masemola
President Cyril Ramaphosa het aangekondig dat Fannie Masemola voorlopig geskors word. Lt-Gen Puleng Dimpane (huidige CFO van die SAPS) is as waarnemende kommissaris aangestel. Masemola staan tereg op vier aanklagte van oortreding van die PFMA rakende ’n R360 miljoen tender. Dit is die vierde permanente kommissaris wat voor die einde van sy termyn geskors of verwyder word.
AfriForum standpunt
Masemola voorlopig geskors: Kommissaris volg in voetspore van lang lys mislukte voorgangers – AfriForum
 Generaal Fannie Masemola se voorlopige skorsing as nasionale kommissaris van Polisie, is volgens die burgerregteorganisasie AfriForum, ’n skandelike bewys van die langdurige sistemiese verval in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Met dié skorsing volg Masemola in die onbenydenswaardige voetspore van talle van sy voorgangers wat dié amp onder ’n wolk van korrupsie, wangedrag, bedrog en onbekwaamheid moes ontruim. Generaal Puleng Dimpane is intussen as waarnemende nasionale kommissaris van Polisie aangewys.
 AfriForum verwelkom die beslissende optrede om Masemola voorlopig te skors ná hy Dinsdag in die Landdroshof in Pretoria verskyn het op vier aanklagte van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA). Die aanklagte hou verband met ’n beweerde onreëlmatige polisietender ten bedrae van R360 miljoen.
Rits skorsings in die SAPS-topstruktuur
Senzo Mchunu is in 2025 deur President Cyril Ramaphosa op spesiale verlof (effektiewe skorsing) geplaas terwyl die Madlanga-kommissie ondersoek instel na bewerings van kriminele infiltrasie en korrupsie binne die SAPS.
Nou is Nasionale Polisiekommissaris Fannie Masemola én Adjunk-kommissaris Lt-Gen Shadrack Sibiya ook geskors of op verlof. Dit beteken dat die Minister van Polisie, die Nasionale Kommissaris en ’n Adjunk-kommissaris almal gelyktydig buite aksie is.
Hierdie reeks skorsings ontbloot die ernstige krisis van korrupsie en wanbestuur binne die hoogste vlakke van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
ANC-SAKP-alliansie spanning op breekpunt
Die SAKP verwerp die ANC se ultimatum dat lede moet kies watter party hulle in 2026 ondersteun. Solly Mapaila beskuldig die ANC daarvan dat hulle kommuniste wil “stilmaak”. Die SAKP beplan om onafhanklik aan die verkiesing deel te neem.
Maroela Media berig: Lede met dubbele lidmaatskap moet kies – óf SAKP óf ANC Die SAKP dreig nou om ʼn politieke tuiste in die MKP of EFF te vind.

Thursday Apr 23, 2026


Eskom-korrupsie: Dieselkontrakte onder die loep
Opmerking: Eskom erken ernstige korrupsie in diesel-aankoopkontrakte en het ’n ondersoek in die finale stadium. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig ’n fluitjieblaser wat miljoene rande se onreëlmatighede aan die lig gebring het. Afriforum sal aanhou druk vir deursigtigheid en verantwoordelikheid. Korrupsie moet stop – die belastingbetaler betaal reeds genoeg.
Eskom het op 22 April 2026 bevestig dat sy interne ondersoek na moontlike onreëlmatighede in diesel-aankoop- en bergingskontrakte nou in die finale stadium is. Die kragreus se nuwe Groep-Ondersoeke- en Sekuriteitsafdeling hanteer die saak, maar weier om verder kommentaar te lewer terwyl regsgedinge en interne prosesse nog loop. Eskom erken die belangstelling van AfriForum en ander belanghebbendes en moedig fluitjieblasers aan om misdrywe te rapporteer.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, verteenwoordig ’n fluitjieblaser wat ernstige korrupsie en onreëlmatighede in die kontrakte aan die lig bring. Volgens die fluitjieblaser verloor Eskom honderde miljoene rande per maand weens verdagte toewysings. ’n Volledige forensiese oudit deur Itsamaya Holdings het ongunstige bevindings oor sekere kontrakteurs gemaak, maar die verslag is na bewering na ’n regsfirma (Centurion Legal Group) verwys vir hersiening – ’n tendens wat Nel as verkwisting van openbare fondse beskryf.
Onreëlmatighede sluit in verslapte bodkriteria, vooruitbetalings aan maatskappye sonder voldoende kapitaal, winsgewende kortingsreëlings ten koste van Eskom, en fakturering vir bergingsfasiliteite wat Eskom self verskaf het. Die fluitjieblaser bly anoniem weens vrese vir wraak in ’n klimaat waar getuies dikwels vermoor word.
Omvang van korrupsie by Eskom
Korrupsie in Eskom soos berig deur Netwerk 24: Clive le Roux, waarnemende direksievoorsitter van Eskom, het erken dat korrupsie by die kragvoorsiener endemies is en nie net by uitvoerende bestuur voorkom nie, maar ook by middelbestuur, toesighouding en selfs bedryfsvlak. Hy het gesê dié probleem is wydverspreid in staatsentiteite, private maatskappye en die samelewing.
Die direksie het die uitvoerende bestuur opdrag gegee om die aankopeproses ingrypend te verander. Aankopers se gesag is beperk, die funksie is nou by kragstasie-bestuurders geplaas, en ’n nuwe digitale, outomatiese aankoopstelsel word ontwikkel om korrupsie te bekamp. Dit volg op ’n SOE-ondersoek wat R76,5 miljoen se korrupsie aan die lig gebring het berig The Citizen.
Chinese boureus Sinohydro in die spervuur by Oya-sonkragprojek in die Karoo
News 24 berig oor Sinohydro, die Chinese staatsbeheerde EPC-kontrakteur vir die Oya Hybrid Energy-projek (solar + wind + battery bewaring ) tussen Sutherland en Ceres, word beskuldig van ernstige oortredings.
Aantygings sluit in die gebruik van buitelandse werkers sonder geldige werkpermitte, swak veiligheidstandaarde, seksuele teistering, omgewingskade en padskade. Minstens sewe werkers is in ’n padongeluk dood, en verdere sterftes word ondersoek. Die projek, wat 128 MW krag aan Eskom moet lewer, is reeds agter skedule.

Wednesday Apr 22, 2026


Konstitusionele Hof: SAMRK mag nie bindende direktiewe uitvaardig nie
Die Konstitusionele Hof het eenparig beslis dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) nie die bevoegdheid het om bindende direktiewe uit te vaardig nie. Die uitspraak kom in die saak tussen die SAMRK en AgroData, waar AfriForum as amicus curiae (vriend van die hof) opgetree het.
Die hof bevestig dat die SAMRK se bevindings slegs afdwingbaar is indien dit deur 'n hofbevel bekragtig word. Dit stem ooreen met vroeëre beslissings van die Mpumalanga Hooggeregshof en die Hoogste Hof van Appèl.
AfriForum verwelkom die uitspraak as 'n oorwinning vir gebalanseerde magsdeling en noem dit 'n belangrike presedent teen moontlike polities-gedrewe bevindings. Die saak het ontstaan uit 'n bevel dat grondbesetters gratis toegang tot boorgatwater op die plaas De Doorn Hoek moes kry.
Ander hoofnuus:
Starlink in SA: Elon Musk se Starlink wil dringend in Suid-Afrika besigheid doen, maar regulasies – veral SEB eise  bly ’n struikelblok. SpaceX sê tegnies kan hulle vandag nog begin, maar wag op lisensiegoedkeuring.
Munisipale hulp: Frankryk is in gesprekke met Suid-Afrika oor ’n €100 miljoen-lening om metro’s se water-, afval- en energiedienste te verbeter. Dit kom te midde van voortgesette diensleweringskrisisse.
Bek-en-klouseer (BKS): Boere dring aan op ’n versnelde private sektor-veldtog. Slegs sowat 4 miljoen dosisse is tot dusver ingevoer, terwyl kundiges waarsku dat 80% kudde-immuniteit binne 6–8 weke nodig is om die siekte te stuit.
Waterkrisis by skole: Burgerlike toetse by 72 skole in vyf provinsies het 20 “gevaarlik onveilige” monsters gevind met moontlike E. coli-besmetting – baie direk uit krane of Jojo-tenks.
Kliprivier-besmetting: Strafregtelike vervolging is ver gevorder teen Johannesburg, Ekurhuleni en Mogale City weens rioolbesoedeling.
Polisie-tender: Polisiekommissaris Fannie Masemola verskyn in die hof oor die beweerde onreëlmatige toekenning van ’n R228 miljoen-kontrak.
Plaasaanvalle: AfriForum se 2025-verslag wys ’n effense toename in aanvalle (184), maar ’n afname in moorde (29). Gauteng bly die warmste kol.
Eskom: Die maatskappy  voorspel die eerste beurtkrag vrye winter in byna ’n dekade, met ’n stewige surplus en verbeterde aanlegprestasie.
Inflasie: Het effens gestyg na 3,1% in Maart, met verdere druk verwag weens brandstofprysverhogings.

Tuesday Apr 21, 2026


Mantashe: Brandstofvoorsiening veilig omdat SA “nie ’n vyand van Iran is nie”
Minister Gwede Mantashe het in die parlement verklaar dat daar geen tekort aan brandstof is nie, slegs hoë pryse. Hy het dit deels toegeskryf aan Suid-Afrika se “goeie verhoudings met Iran”. Die tydelike verlaging van die brandstofheffing met R3 per liter (wat R6 miljard per maand kos) kan moontlik vir nog twee maande verleng word, maar langtermyn verligting is nie moontlik nie. Minister Godongwana het bevestig dat die fiskus nie verdere ondersteuning kan bied nie.
Implikasie: Hierdie stelling is kommerwekkend omdat dit toon hoe afhanklik Suid-Afrika se energie-sekuriteit geword het van verhoudings met ’n internasionaal destabiliserende regime. Dit beklemtoon die dringendheid vir ’n permanente verlaging van die brandstofheffing, veral vir boere en die breë ekonomie.
Julius Malema se 5-jaar vonnis en appèl en minagting van die hof
Adv. Gustaf Pienaar verduidelik op Netwerk 24 dat minagting van die hof óf binne (in facie curiae) óf buite die hof (ex facie curiae) kan plaasvind. Hy verwys na Julius Malema se vernederende, seksistiese en rassistiese aanvalle op landdros Twanet Olivier ná sy vonnis in die vuurwapensaak. Malema het haar van rassisme beskuldig en na bewering ’n band met AfriForum gesuggereer.
-             Nog strenger SEB in staatsverkryging: Pryse gaan styg en kwaliteit daal, waarsku kritici
Die regering het nuwe regulasies gepubliseer wat staatskontrakte tot R100 miljoen uitsluitlik kan voorbehou vir maatskappye wat bewys dat 40% van hul vorige verkryging van 51% swartbesit maatskappye kom, of 30% aan 100% swartbesit maatskappye gesubkontrakteer het. Vir kontrakte bo R100 miljoen moet minstens 25% aan 100% swartbesit maatskappye gesubkontrakteer word.
Volgens kritici, waaronder Piet le Roux van Sakeliga , sal hierdie reëls die poel van moontlike verskaffers drasties verklein, pryse aansienlik opstoot en kwaliteit laat daal. Die uiteindelike koste sal op die belastingbetaler neerkom. Die regulasies word beskou as nog strenger as vorige SEB-voorskrifte en verhoog die risiko van verdere staatsmislukking in verkryging.
Plaasmoorde verslag
AfriForum se 2025-plaasmoordeverslag toon ’n gemengde maar kommerwekkende beeld van landelike veiligheid. Hoewel die aantal plaasmoorde effens gedaal het van 37 in 2024 na 29 in 2025, het die aantal plaasaanvalle toegeneem van 176 na 184.
Die verslag beklemtoon veral die hoë vlak van brutaliteit: 36% van alle aanvalle (byna 4 uit 10) word as “ernstig gewelddadig met ’n beduidende kans op dood” geklassifiseer. Gauteng het die meeste aanvalle (50) en moorde (7) aangeteken, terwyl Limpopo die hoogste moord-tot-aanvalkoers toon (31%). Bejaardes bly besonder kwesbaar.
AfriForum waarsku dat die afname in moorde nie as ’n oorwinning beskou moet word nie, aangesien die intensiteit van geweld steeds uiters hoog is. Die organisasie herhaal sy oproep dat plaasaanvalle as prioriteitsmisdaad verklaar moet word en bepleit sterker politieke wil en gemeenskapsveiligheidstrukture.

Monday Apr 20, 2026


Julius Malema kry 5 jaar effektiewe tronkstraf en appèl
Magistraat Twanet Olivier het vir Julius Malema 5 jaar direkte tronkstraf opgelê op die hoofaanklag van roekelose afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare plek. Hy het bykomende vonnisse en boetes op die ander aanklagte ontvang, wat gelyktydig loop, wat die effektiewe vonnis op 5 jaar bring.
Malema se regspan het onmiddellik verlof tot appèl aangevra. Die appèl is toegestaan en die vonnis is opgeskort. Hy het borgtog gekry en bly dus vry terwyl die appèlproses (wat 2 tot 5 jaar kan duur) voortgaan.
Na die hofsaak het regslui betrokke by die saak soos die staatsaanklaer en landdros Malema se teiken geword in uitsprake en aantygings teen hulle.
AfriForum verwelkom die vonnis as ’n belangrike stap vir aanspreeklikheid. Kallie Kriel het gesê dit versterk die beginsel dat niemand bo die wet staan nie en dat volharding saak maak. Regskundige Ulrich Roux het die vonnis as ’n goeie balans beskryf.
Intussen het ’n prokureur, Hilmer Wilhelm Kruger, ’n nuwe klag by die Gelykheidshof ingedien teen Malema en die EFF oor haatspraak (“Kill the Boer”), intimidasie van die landdros en die “gesteelde grond”-narratief. Dit skep ’n addisionele regsfront met die nuwe hofsaak teen hom.
Roelf Meyer as ambassadeur na die VSA
Pres. Ramaphosa verdedig die aanstelling van die 78-jarige Roelf Meyer as nuwe ambassadeur in Washington. Dit is nog onbekend wanneer hy na Washington gaan vertrek. Kritici, waaronder Solidariteit en AfriForum, noem dit teleurstellend omdat Meyer as ’n ANC-verbonde figuur gesien word. Die aanstelling word as skadebeheer beskou eerder as ’n strategiese herstel van die verhouding met die Trump-administrasie.
SEB bly struikelblok vir Starlink
Die regering se volgehoue vasklou aan rasgebaseerde eise verhinder steeds Starlink se lisensie. Elon Musk het die afgelope week weer aktief op X oor die onderwerp gepost en beklemtoon dat SEB belegging en tegnologie blokkeer. Dit raak plaasveiligheid, onderwys en ekonomiese groei direk.
ANC interne spanning en SAKP se onafhanklike pad
Die ANC se spesiale NUK het besluite geneem oor die SAKP se besluit om onafhanklik verkiesings te bekamp. Dit bring verdere spanning binne die drie party alliansie en wys op groeiende verdeeldheid in die ANC-alliansie.
Les van die dag Vandag het weer gewys hoe diep verdeeld Suid-Afrika is. Die Malema-vonnis, die nuwe haatspraak-klag, en die volgehoue struikelblokke soos SEB en Starlink beklemtoon die spanning tussen ideologie en praktiese bestuur. AfriForum se rol bly om die regstaat, aanspreeklikheid en gelyke toepassing van die wet te verdedig – selfs wanneer dit ongewild is.

Thursday Apr 16, 2026


Julius Malema kry 5 jaar effektiewe tronkstraf
Vandag is die vonnis in Julius Malema se vuurwapensaak uitgespreek. Magistraat Twanet Olivier het hom 5 jaar direkte tronkstraf op die hoofaanklag opgelê, plus 2 jaar op die tweede aanklag. Op die oorblywende drie aanklagte het hy R60 000 boete gekry (of 6 maande tronkstraf elk). Die vonnisse loop gelyktydig, wat beteken Malema het 5 jaar effektiewe tronkstraf ontvang.
Die hof het bevind dat Malema vooraf beplan het om die wet te oortree deur die semi-outomatiese geweer af te vuur. Die landdros het ook die impak op die gemeenskap en die koste vir belastingbetalers beklemtoon. Sy het beklemtoon dat dit Malema is wat gevonnis word, nie die EFF nie, en dat ’n hof onafhanklik moet bly.
Verlof tot appèl is toegestaan
Malema se regspan het onmiddellik verlof tot appèl aangevra. Die magistraat het dit toegestaan, die vonnis is opgeskort, en hy het borgtog gekry. Hy bly dus vry en kan vir eers aanhou as LP en EFF-leier terwyl die appèlproses voortgaan. Die saak beweeg nou na die Hooggeregshof in Bisho, en kan daarna na die Appèlhof en moontlik die Konstitusionele Hof gaan. Die hele proses kan maklik 2 tot 5 jaar (of langer) duur.
AfriForum se rol en reaksie
AfriForum het die saak in 2018 geopen en agt jaar lank volgehoue druk op die NPA geplaas om dit te vervolg. Vandag se vonnis is ’n direkte resultaat van daardie volharding.
Kallie Kriel het namens AfriForum gesê: “Malema en die EFF het met strafloosheid opgetree. Dit was noodsaaklik dat die hof ’n duidelike boodskap stuur dat niemand bo die wet is nie. Hierdie uitspraak versterk die beginsels van aanspreeklikheid en gelykheid voor die wet. Alhoewel dit agt jaar geneem het, wys dit dat volharding saak maak. AfriForum sal aanhou veg vir geregtigheid sodat die kriminele regstelsel sy mandaat sonder vrees, guns of vooroordeel kan uitvoer.”
Vonnis van 5 jaar
Regskundige Ulrich Roux het die vonnis as ’n goeie balans beskryf en gesê die vyf jaar stuur ’n duidelike boodskap dat vuurwapen misdade nie geduld sal word nie.
Kernboodskap van die dag
Vandag was ’n belangrike toets vir die Suid-Afrikaanse regstaat. Die hof het erken dat Malema se optrede ernstig was, maar die appèlproses beteken die finale uitkoms lê nog ver in die toekoms. AfriForum sal die appèl noukeurig monitor om te verseker dat die reg sy gang gaan sonder politieke inmenging.
Die saak het weer gewys hoe moeilik dit is om invloedryke figure konsekwent aanspreeklik te hou, maar dit het ook gewys dat volharding (soos AfriForum s’n) resultate kan lewer.

Wednesday Apr 15, 2026


Malema vonnis is ’n belangrike toets vir die Suid-Afrikaanse regstaat.
Vandag en môre staan Julius Malema in die Oos-Londen-landdroshof vir die finale vonnisverhoor in sy 2018-vuurwapensaak. Die saak, wat deur AfriForum geopen is, het vandag weer duidelik gewys hoekom die organisasie jare lank volgehoue druk op die NPA geplaas het.
“Malema het met kwaadwilligheid opgetree” – Staat
Staatsaanklaer adv. Joel Cesar het Malema se optrede as “barbaries” en met “opsetlike kwaadwilligheid” beskryf. Hy het aan die hof gesê Malema het nie net een skoot afgevuur nie, maar 14–15 skote met ’n aanvalsgeweer in ’n vol stadion met meer as 20 000 mense. “Dit was deur die genade van God dat niemand seergekry het nie,” het Cesar gesê. Die NPA eis 15 jaar direkte tronkstraf om ’n sterk boodskap uit te stuur dat roekelose vuurwapengebruik ernstige gevolge het.
AfriForum rol
AfriForum het die kriminele klagte in Augustus 2018 gelê nadat ’n video van Malema se optrede wyd versprei is. Die organisasie het jare lank volgehoue druk op die NPA uitgeoefen om die saak te vervolg, juis omdat hulle geglo het dat niemand – nie eens ’n invloedryke politieke leier nie – bo die wet mag staan. Vandag se verrigtinge is dus ’n direkte resultaat van AfriForum se konsekwente stryd vir die regstaat.
Malema se verdediging
Malema se verdediging het aangevoer dat daar geen presedent is vir tronkstraf weens “feestelike geweerskote” nie. Die EFF noem die saak “politieke vervolging” en beweer Malema word vervolg vir sy politieke sieninge. Woordvoerder Sinawo Thambo het gesê die vonnis sal nie die “finale spyker in die doodskis” wees nie, omdat hulle onmiddellik gaan appelleer. Malema het reeds twee regsspanne gereed om borgtog en appèl so vinnig moontlik aan te teken.
“Kill the Boer, Kill the Farmer” gedreunsing buite hof
Intussen het EFF-ondersteuners buite die hof “Kill the Boer, Kill the Farmer” gedreunsing – dieselfde tipe haatspraak en geweldretoriek waarteen AfriForum al jare lank waarsku.
Kern van die saak
Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, het gesê die organisasie bly vol vertroue dat die hof ’n regverdige en ernstige vonnis sal uitspreek. “Ons het hierdie saak begin omdat openbare veiligheid en die beginsel dat die wet vir almal geld, vir ons saak maak,” het hy gesê. Die vonnis word môre (Donderdag 16 April) verwag.
AfriForum se standpunt bly onveranderd: Dit gaan nie oor politiek nie. Dit gaan oor die vraag of die regstelsel steeds funksioneer en of invloedryke figure hulself bo die wet kan plaas. Die organisasie sal die vonnis noukeurig monitor en sal, indien nodig, verdere stappe oorweeg om die regstaat te versterk.

Copyright 2023 All rights reserved.

Podcast Powered By Podbean

Version: 20241125